
=====================================================================
'Je parle Afrikaans  Paris' (AV 6:2)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


'Je parle Afrikaans  Paris'

AFRIKAANS is 'n taal wat reis -- tot in die verre Parys (Frankryk s'n, bedoel ek). Dit het ek met plesier agtergekom in my meer as vyf jaar 
lange verblyf in di mooi ou stad: nie net deur my studie nie, maar ook deur 'n uiters suksesvolle Suid-Afrikaanse letterkundekring wat ons 
die afgelope twee jaar al heelwat stof tot denke en prettige byeenkomste verskaf het.

Al is die Afrikaanssprekendes maar min daar tussen die Gallirs, hoef 'n mens nie jou moedertaal te laat verroes nie. Ek kry selfs 
Afrikaans gepraat in die Franse regsfirma waar ek sekretarese is: My kollega Wilma Margono,   'n Indonesir van Djakarta, Java, het aan 
moedersknie Nederlands geleer in di eertydse Nederlandse kolonie.

Wat my aanvanklik die hele pad van die Paarl na Parys gelok het, was my doktorale studie aan die Sorbonne oor die invloed van die 
twintigste-eeuse Franse letterkunde op die Afrikaanse Sestigers: Breyten Breytenbach (wat nog steeds 'n woonstel daar het in 'n 
skilderagtige ou straatjie), Andr P. Brink (wat nogal bekend is in Frankryk, die land gereeld besoek en uitstekend Frans praat), Jan Rabie 
(wie se wonderlike insiggewende Paryse Dagboek verlede jaar verskyn het), Chris Barnard, en so meer. Veral die eerste drie het 'n goeie 
aantal van hul jong jare in Parys deurgebring, en dit was vir my 'n wonderlike ervaring om self te gaan kyk na plekke waar hulle gewoon het 
of wat hulle in hul werk beskryf.

Mettertyd het ek agtergekom dat 'n mens ook aan die Sorbonne Afrikaans kan praat. Ek het ingeskryf vir 'n meestersgraad in Nederlands, en 
'n jaar lank kon ek in ons groepie van agt studente in Afrikaans aan die besprekings deelneem, en al my werkstukke in Afrikaans inlewer! 
Ons taalkundedosent, mnr. Pekelder, het my 'n kas vol Afrikaanse boeke in sy kantoor gewys wat deur sy voorganger, 'n vurige 
belangstellende in Afrikaans, aangekoop is. Die dosent in letterkunde, prof. Johanna Stouten,   het 'n baie interessante kursus aangebied 
oor die Nederlandse skrywer F. Springer, wat self in die tweede deel van die jaar op besoek daar was en ons klasse bygewoon het. Springer, 
wat jare lank diplomaat was en afgetree het as ambassadeur in Berlyn, was baie genteresseerd om met my oor Suid-Afrika te gesels, en het 
vertel dat hy voor die 1994-verkiesing 'n paar maande lank as lid van die VN-waarnemerspan in Pretoria was. My jaar-skripsie het gehandel 
oor Elisabeth Eybers se vertalings van Franse sonnette deur die negentiende-eeuse Jos Maria de Heredia.

Die daaropvolgende jaar van die meestersgraadkursus was die besoekende skrywer Adriaan van Dis,   wat ng nouer bande met Suid-Afrika en 
Afrikaans het: Hy praat Afrikaans vlot, en vertaal byvoorbeeld Breytenbach se gedigte in Nederlands.

Met al die lekker Afrikaans praat en boeke lees, besluit ek toe om begin 1997 'n Suid-Afrikaanse Letterkundekring op die been te bring, 
onder aanmoediging en beskerming van die Club d'Amiti franco-sud-africain   (Frans-Suid-Afrikaanse vriendskapsklub), wie se voorsitter, 
Lynn van der Merwe, ook hard werk om ons landgenote en belangstellendes in Suid-Afrika byeen te bring. Ons byeenkomste was aanvanklik, so 
in die eg Franse tradisie, in 'n kafee aan die oewer van die Seine. Mettertyd het ons getalle so toegeneem dat ons uit die kafeetjie se 
nate gebars het en nou aan huis van lede met groot blyplekke bymekaarkom -- of selfs 'n literre piekniek in 'n park hou as die weer dit 
toelaat. Soms word nie net die gees nie, maar ook die vlees gevoed met bobotie, of pap en wors (gemaak deur 'n Paryse slagter aan wie die 
resep verskaf is).

Die klem val op Suid-Afrikaanse letterkunde in die algemeen. Wat Afrikaans betref, het ons byvoorbeeld al 'n staproete op die spore van 
Brink en Breytenbach in die Latynse buurt gedoen, en gassprekers genooi soos Jean Guiloineau, vertaler van Brink se boeke in Frans, en 
Dennis Hirson, vertaler van Breytenbach se gedigte in Engels. Die Suid-Afrikaanse skrywer en filmmaker Rina Sherman, wat al lank in Parys 
woon, het kom praat oor haar debuutroman, Uitreis,   en oor haar projek om in Namibi onder die Himba-stam te gaan woon en hul mondelinge 
kultuur op film vas te l noudat die beplande bou van 'n opgaardam hul tradisionele woongebied en die voortbestaan van hul gebruike 
bedreig.

Op vanjaar se program is me. Maha Boulos van Unesco,   wat verantwoordelik is vir 'n prys vir kinder- en jeugboeke wat handel oor 
verdraagsaamheid, en waarvoor sewe Suid-Afrikaanse boeke ook ingeskryf is. Een het eervolle vermelding ontvang. Later beplan ons 'n 
bespreking van Antjie Krog se werk, in die besonder haar jongste boek, met as gas mnr. Georges Lory,   Franse vertaler van haar gedigte en 
eertydse kulturele attach in Suid-Afrika, wat ook vlot Afrikaans praat.

Tussendeur ontvang ek interessante navrae van mense wat meer oor ons letterkunde wil weet, byvoorbeeld die bibliotekaresse van die Sorbonne 
se dramadepartement, wat voorstelle gesoek het om hul versameling oor die Suid-Afrikaanse toneelwreld uit te brei. Daar was ook iemand wat 
'n bloemlesing saamstel van literre verwysings na wyn, en wat -- volkome korrek -- gemeen het so 'n werk kan nie volledig wees sonder 
bydraes uit Suid-Afrika met sy mooi wingerde en lekker wyn nie.

Vroer was 'n sterk bindende faktor vir Afrikaanssprekendes in Parys die gereelde kerkbyeenkomste in die Suid-Afrikaanse ambassade en die 
weeklikse biduur wat deur Suid-Afrikaanse vroue bygewoon is. Daar kon almal dan lekker Afrikaans praat en mekaar emosioneel onderskraag so 
in die vreemde. Met die stuk-stuk vertrek van die ouer garde het die byeenkomste geleidelik tot 'n einde gekom. Die paar van ons wat 
oorgebly het, kom nog nou en dan saam om te kuier en nuus uit te ruil.

Hoewel ons almal so 'n bietjie wreldburgers word, kom 'n mens tog agter hoe nou taal aan jou kultuur en identiteit verbonde is. En hoe dit 
jou ook help om ander se kultuur te verstaan. Daarom het ek en 'n Suid-Afrikaanse medestudent, Jaco du Toit, 'n ruk gelede ondernemend 
besluit om te gaan Zoeloe leer in die taallaboratorium van die openbare biblioteek in die Georges Pompidou-sentrum. Met genoegdoening het 
ons gesien dat hulle omtrent elke denkbare taal in hul alfabetiese katalogus het -- dit begin by Afrikaans en eindig by Zoeloe! Sonya van 
Schalkwyk uit Parys, Frankryk.

T en nou

James Small
was eers
ons grote held
('n rare, stoute, klong).
Nou is dit
Bobby Skinstad
met sy seksie
uithangtong.

Vers: Philip de Vos
Tekening: Cora Coetzee

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av6215.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Junie 1999 /// Vier nasionale ampstale is beter plan (AV 6:2) /// 
Waardeer die Afrikaanse jeug prosa? (AV 6:2) /// S praat die mense (AV 6:2) /// 'n Pikante smakie (AV 6:2) /// Huislike 
geletterdheidsonderrig (AV 6:2) /// Afrikaans n die verkiesing (AV 6:2) /// Taalkennis is bron van vreugde (AV 6:2) /// Fees soek na 
taaloplossings (AV 6:2) /// Gedagtes oor tersire onderrig (AV 6:2) /// 'Hanteer' 'versigtig' kan goeie riglyn wees (AV 6:2) /// Die Groter 
Begrafnis (AV 6:2) /// 'Die taal waarin ek droom' (AV 6:2) /// Hier vonk die taal! (AV 6:2) /// Televisie: Wat is 'die regte ding om te 
doen?' (AV 6:2) /// 'Je parle Afrikaans  Paris' (AV 6:2) /// Leipoldt en Afrikaans (AV 6:2) /// Leer hoe om werk te skep (AV 6:2) /// 
Effekto (AV 6:2) /// Pansat: n die millennium (AV 6:2) /// ONS LESERS SKRYF (AV 6:2) /// Karoomense het eie praattaal (AV 6:2) /// 'Ek s 
ja' (AV 6:2) ///

